Ons eie belang of God se belang

Deur Ds Hendrik van Wyk

Wat is vir jou belangrik?  Hoe rig jy jou lewe in?  Waarop spandeer jy jou geld, tyd en energie?  Dink baie mooi hieroor. Watter mense is vir jou belangrik?  Deur wie word jou prioriteite bepaal?  Deur ander mense, jou huisgesin, jou werkgewer, jou huweliksmaat, of deur jouself?  Jou belangstellings?  Jou waardes?  Jou beginsels?  
Dit is belangrik dat jy van tyd tot tyd hierdie soort vrae vir jouself vra. Hoe jy jou lewe leef word in 'n groot mate deur jou prioriteite bepaal.
 
Die boek Haggai vertel ons van die moeilike tye waarin die Jode gedurende die Persiese tyd geleef het. Hy vertel ook van hulle prioriteite wat volgens die verkeerde waardesisteem opgestel is, sodat God nie meer die belangrikste plek in hulle lewe ingeneem het nie. Daarom het hulle hulle tyd en geld en arbeid aan hulle eie sake en aan hulle eie huise spandeer eerder as om God se tempel te bou.  Maar solank die tempel in puin gelê het, het God ook nie die belangrikste plek in Sy mense se lewens ingeneem nie.  Die boek Haggai herinner ons vandag nog daaraan dat God eerste aanspraak op ons lewensprioriteite het.  God moet die belangrikste plek in ons lewe inneem voordat ons 'n werklike sinvolle en geseënde lewe kan lei.
 
Die opvatting wat onder die volk in Haggai se tyd geheers het, was dat dit nie toe 'n geskikte tyd is om die tempel te bou nie.  Inderdaad sou daar heelwat argumente gewees het waarom die tempel nie gebou moet word nie.  Mense kon redeneer dat hulle te arm was. Buitelandse omstandighede het die bou van die tempel ook nie wenslik gemaak nie.  Mense is vindingryk in die uitdink van verskonings waarom die belange van die Here nie nog 'n eerste prioriteit in hul lewe moet wees nie.  Haggai ontmasker hulle oënskynlike geldige argumente vir wat dit in die werklikheid is:  eie belang.  Alle verskonings gaan gewoonlik om eie belang.
 
Om God se teenwoordigheid en seën te ervaar, moet ons Hom bo alles liefhê en dien.  Wanneer jy jou lewe sonder God inrig, of waar Hy 'n randfiguur in jou lewe geword het, is dit moeilik om sin in die lewe te vind.  Die dinge wat jy meen sin en betekenis in jou lewe gee, bevredig op die lang duur nie regtig vir die Here nie.

Jesus sê in Matteus 6:33:  Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en die wil van God en dan sal julle ook al hierdie dinge ontvang.  So, soek eers God se koninkryk, God se wil en Hy sal vir die res van jou lewe sorg vir wat jy nodig het.  Goeie voornemens.  Hoe lank hou dit?
 
Begin nou.  Doen dit nou.  Merk hierdie dag.  Dit werk weer vir jou uit op keuses.  Dit werk weer vir jou uit op besluite, 'n wilsbesluit.  Saamgevat, hierdie hele boodskap van Haggai sê vir ons as jy die Here eerste in jou lewe plaas en jy maak daardie wilsbesluite, daardie keuse, merk die dag, trek die kringetjie om die almanak en kyk wat gaan gebeur.  Dit is 'n uitdaging.  Daag jouself uit.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006