Wat sê God se Woord oor selfbeeld?

Deur Wynand Rossouw

Wat sê God se Woord oor selfbeeld? Die Woord van die Here maak vele uitsprake omtrent die mens.  In Genesis sê God die Vader, God die Seun, God die Heilige Gees vir mekaar, Kom ons maak die mens na Ons beeld. Daarna het alles nog steeds skeef geloop, want die mens wil dieselfde met God doen, Kom ons maak God na ons beeld.

Wat sê God oor wie ons is? Paulus skryf, Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee.  Dit beteken daar is niks wat te moeilik vir my is nie, want ek is tot alles in staat deur Christus wat vir my die krag gee.  Dawid skryf in Psalm 139, Here, ek loof U omdat ek so wonderbaar is.  Wonderbaar is U werke en my siel weet dit alte goed.  Dit beteken jy moet jouself hoog en belangrik ag, nie hoër en belangriker as ander mense nie, nie in vergelyking met ander mense nie, maar jy moet jouself belangrik ag òmdat God jou gemaak het. As jy jouself belangrik ag, kan jy mense met daardie liefde liefhê.

Johannes 5 sê, Die Seun kan immers niks anders doen behalwe wat Hy sy Vader sien doen nie.  As jy ooit wonder of jy die regte pa of regte ma vir jou kind is, weet dan dat met jou foute en al is jy die heel beste pa en ma vir jou kind, want God het jou uitgekies vir jou kind. Jy as ouer moenie twyfel of jy die wonderlikste pa of ma vir jou kinders is nie.  Jy, met jou foute, met jou onberekensvatbaarheid vir baie dinge, is perfek vir jou kind.  Die strewe moet tog altyd wees om meer soos Christus te word vir jou kind, sodat hy 'n ware beeld kan kry van wie God regtig is.

Jy moet seker maak dat jou kind 'n gesonde selfbeeld het. As jy wonder, hoe om 'n gesonde selfbeeld by jou kind te kweek, begin by jouself. Demonstreer dit vir jou kind. Jy mag nie die luuksheid hê om negatiewe dinge oor jouself uit te spreek deur te sê,  Ek kan nie..., ek is bang..., of ek weet nie van daardie goed nie.  Jy moet die voorbeeld stel, want dan kan jou kind leer dat hy dinge kan doen, net soos sy pa en ma.
 
Demonstreer en wys hulle op 'n praktiese manier. Moenie net vir hulle sê om dit te doen nie.
 
God die Skepper, die uitvinder van die familie, wil hê dat jy 'n goeie selfbeeld moet hê, dat jy gemotiveerd moet wees, want die Here sê in Jeremia 29, Ek weet die planne wat Ek vir jou het; 'n hoopvolle toekoms.  Dit moet jou motiveer dat jy die toekoms sal aanpak en wil aanpak, dat jy dit gemotiveerd sal doen, dat jy dit tot uitvoering sal bring en dat jy daardeur 'n voorbeelde sal wees vir ander wat na jou kyk, ook jou kinders.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006