Is jou ingesteldheid in lyn met God se hart?

Deur Rick Moser

Jy besef dalk op 'n dag dat daar goed is wat jy doen waaroor die Here nie opgewonde is nie. Jy begin jouself afvra, Hoekom is hierdie goed dan nou so verkeerd? Hoekom wil U nie hê dat ek hierdie goed moet doen nie, of betrokke daarby wees nie, of my gedagtes in hierdie rigting laat gaan nie?
 
Hoe is dit moontlik dat iemand wat 'n kind van God is en wat gebore is met die Gees van God in hom, dat dit wat op die hart van die Koning is en dit wat op die hart van die Koningskind is, so ver verwyder van mekaar kan wees? Hoe is dit moontlik dat mense na 'n kind van die Here en sy lewenswyse, sy lewensingesteldheid en die manier wat hy homself gedra, kan kyk en die ooreenkoms tussen hierdie koninkrykskind se lewe en dit wat op die hart van die Koning is, soek? Hoe is dit moontlik dat daar soveel afstand kan wees tussen hierdie twee lewenskwaliteite en lewensingesteldhede?

Wanneer jou hart in die agenda van die Vader verweef is, soos Jesus s'n was, is daar niks wat die Vader van jou wil weerhou nie. Daar is niks wat Hy nie vir jou wil gee nie. Wanneer jy egter die lig van die wêreld as jou verwysingsraamwerk gebruik, verval jy in 'n manier van lewe wat nie strook met God se hart nie. Jy begin soos 'n heiden leef, soos iemand wat uitgelewer voel, wat voel dat jy soveel as moontlik moet gryp, want op een of ander stadium gaan die gode hierdie goed van jou ontneem en gaan jy nie meer die genot daarvan hê nie. So 'n ingesteldheid is die ingesteldheid van iemand wat nie die hart van God die Vader ken nie, van iemand wat nie leef volgens die begeerte van die Vader om te seën, om te gee, om te onderneem, om te ondersteun en om jou lewe met elke goeie gawe te vul nie.
 
Ondersoek jou verhouding met die Here en vra jouself af, Is my ingesteldheid in lyn met die ingesteldheid van die God wat vir die voëls van die hemel, vir die lelies en die gras van die veld voorsien? Is my ingesteldheid in lyn met sy hart? Voel ek uitgelewer? As jy uitgelewer voel, wie laat jou uitgelewer voel? Die een wat God ons Vader wil skilder as 'n moedswillige, moeilike, nukkerige, onbevredigde God, wat alles van jou wil ontneem en die lewe vir jou so moeilik as wat Hy kan, wil maak. Die vyand wil 'n wig tussen jou en God kom indryf, deur jou aan God se manier of God se vermoë om vir jou te voorsien, te laat twyfel.

Kyk na wat Jesus in Matteus 6:33 (NLV) sê: Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as 'n bonus byvoeg. Vestig jou oog op sy hart en sy ingesteldheid. Verstaan sy gedagtes oor jou.
 
Begin hierdie seisoen deur die hart van die Vader te begryp. Dink vanuit sy verwysingsraamwerk, nie soos heidene dink nie. Ken Hom vir wie Hy werklik is en lewe vanuit sy voorsiening, deur sy hart jou fokus in alles wat jy doen te maak.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006