Wees God se hande en voete

Deur Liesel Krause-Wiid

Daar was 'n seun met Downsindroom genaamd Johnny. Hy was 19 jaar oud en het in 'n kruidenierswinkel as 'n pakker gewerk. Hy het klante se kruideniersware in pakkies gesit en in hulle trollies gelaai. Eendag het 'n motiveringspreker, Barbara Glands, met die personeel van die kruidenierswinkel kom praat en hulle uitgedaag om hulle klante met blydskap te dien en te probeer om 'n verskil te maak. Johnny besluit toe om 'n gedagte vir die dag met sy naam op in elke klant se pakkie te sit. Sy pa het hom gehelp, kopieë daarvan gemaak en hy het in elke klant by sy kasregister se pakkies, 'n gedagte vir die dag ingesluit. Hy het die klante dan ook vertel dat hy 'n spesiale boodskap in hul pakkie gesit het.
 
'n Maand later het die eienaar van die winkel agtergekom dat die ry by Johnny se kasregister altyd die langste is. Die mense het amper tot aan die agterkant van die winkel gestaan, sodat Johnny hulle kruideniers moes pak en hulle sy gedagte vir die dag kan ontvang. Die winkeleienaar het toe vir Barbara Glands gekontak en uitgenooi om te kom kyk:  Ek probeer vir mense sê hulle moet in 'n ander ry gaan staan, want hierdie ry van Johnny is net eenvoudig te lank. Hulle weier egter om dit te doen, want hulle soek hierdie boodskap wat Johnny vir hulle in hulle kruidenierssakkie sit.

Dit is 'n inspirerende verhaal van 'n seun met Downsindroom wat 'n yslike impak op ander mense se lewens gemaak het. Dit is wat God wil hê ons moet doen. Hy wil hê dat ons sy hande en voete hier op aarde moet wees. Hy wil hê dat ons sy liefde vir mense moet demonstreer.
 
Matteus 5:13, Julle is die lig vir die wêreld. Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is verheerlik. Hierdie teksgedeelte beveel ons ook om die sout van die aarde te wees. Wat doen sout? Sout gee smaak. Ons, as kinders van die Here, moet smaak gee aan die wêreld. Sout keer ook verrotting en agteruitgang en dit is wat ons as kinders van die Here moet doen. Ons moet soos sout wees wat die wêreld 'n beter plek maak. Sout is ook genesend. In die Bybelse tyd is pasgebore babatjies met sout ingevryf, omdat daar geglo is dat dit die babatjie teen siektes sal beskerm. So moet ons ook die wêreld beskerm. Ons moet die genesende salf wees wat die wêreld nodig het.

God se Woord leer ons om soos Jesus op te tree. Ons moet 'n verskil maak. Ons moet grense oorsteek. Ons moet Sy liefde en genade vir die wêreld wys. Ons woorde en dade moet vir Hom 'n getuienis wees.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006