Die Here kan enige iemand gebruik

Deur Liesel Krause-Wiid

Wanneer ons die Bybel lees, sien ons dat God gewone mense gebruik om ongewone dinge, om wonderwerke, te doen. Hy neem meneer of mevrou Niemand en verander ons in meneer of mevrou Iemand. Regdeur die Woord sien ons dit. God gebruik selfs mense wat foute maak om sy werk hier op aarde te doen.
 
Iemand soos Moses, wat 'n Egiptenaar doodgeslaan het, word op die ou einde deur God gebruik om sy volk uit Egipte te lei.

Iemand soos Josef wat 'n klikbek en grootprater was, word deur God gebruik om sy volk van ’n gewisse hongersnood te red.

God kan ons gebruik. Hy gee nie om wie jy is of hoe jou lewe lyk nie. God kan selfs jou foute tot sy diens gebruik.

As ons na Gideon, die Rigter, se lewe kyk, sien ons dat hy 'n swak selfbeeld gehad het. Hy het allerhande verskonings gemaak toe die Here hom wou gebruik. Hy het nie uit die regte familie gekom nie, was boonop die swartskaap van daardie familie en het nie in 'n bekende dorp gebly nie. Hy kon nie dink hoe die Here hom sou kon gebruik nie.
 
Miskien woon jy in 'n klein dorpie en wonder hoe die Here jou kan gebruik. God kan enige iemand gebruik. God het Gideon se potensiaal raakgesien en geweet dat hy 'n dapper man was. Net so sien God ook jou potensiaal raak, omdat Hy jou geskep het. Hy het jou aanmekaar geweef in jou moederskoot en vir jou sekere unieke gawes en talente gegee. Hy wil hê dat jy hierdie unieke gawes en talente moet gebruik om vir Hom 'n unieke verskil hier op aarde te maak.

Ons vergelyk onsself so dikwels met ander mense, maar God het ons uniek geskep met 'n spesifieke plan in gedagte. Miskien voel jy nie goed genoeg nie, of dalk ook bietjie bang soos Gideon, maar God wil vandag vir jou sê, Ek sien jou potensiaal raak. Ek het jou geskep en Ek wil in jou en deur jou 'n verskil maak. God het Gideon toegerus en hy het op die ou einde 'n hele leërskare met 300 mans verslaan. God kan dieselfde vir jou doen. Hy ken jou potensiaal. Hy weet wat in jou steek en Hy wil 'n verskil deur jou maak. God maak deur gewone mense soos jy 'n ongewone verskil. Hy kan 'n meneer of 'n mevrou Niemand in 'n meneer of 'n mevrou Iemand laat ontwikkel.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006