Vir God is alles moontlik

Deur Liesel Krause-Wiid

'n Klein dorpie in Oostenryk was tydens een van die twee wêreldoorloë deur vyandige soldate omring. Dit was laatmiddag en hulle het geweet hulle gaan binnekort deur hierdie vyandige mag ingeval word. Al die inwoners het daardie nag maar min geslaap. Die volgende oggend was Paasoggend en die predikant van die dorp het besluit dat hy die kerk se klokke gaan laat lui, of die soldate hulle nou gaan inval of nie. Dit was sielsmooi, die klank van die kerkklokke wat daardie oggend gelui en deur die vallei weergalm het. Toe die soldate 'n uur of twee later nog nie die dorp binnegeval het nie, het die inwoners gaan ondersoek instel. Tot hulle verbasing was die vyandige soldate skoonveld. Hulle vermoed dat die vyandige mag die gelui van die klokke as die aankoms van die Oostenrykse soldate gesien het. Hulle het eerder gevlug en die klein dorpie is gespaar.
 
Ons lees van soveel wonderwerke in God se Woord. Miskien het jy vandag een nodig. Vertrou God onverskrokke daarvoor. Hy gee unieke, merkwaardige uitkomste.
 
Markus 10:27, Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê, Vir mense is dit onmoontlik, maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.  
Juis wanneer ons met ons rug teen die muur staan, wanneer ons dink dat dit klaar is met ons, is wanneer God opdaag en 'n wonderwerk laat gebeur. Vertrou Hom vir 'n unieke uitkoms. Hy is daar om jou redding te bewerkstellig. Soms voel dit of alles te veel raak, maar bly egter op God in hierdie moeilike tye vertrou. Hou vas aan God en klou aan sy genade.
 
Daar is die wonderlikste belofte in Klaagliedere 3 wat lui, Elke more is Sy genade nuut. Miskien het jy al in die aand in die bed geklim en gewonder hoe jy gaan aangaan. Dan word jy die volgende oggend wakker met nuwe, bonatuurlike, Goddelike krag om mee aan te gaan, 'n vars porsie genade wat God aan jou voorsien.
 
Josef is deur sy broers as slaaf verkoop. Hy het seker gedink dat dit sy einde is. God het hom egter daar deur gedra. God het wonderwerke in sy lewe gedoen en hy is van die put na die paleis bevorder. Josef het nooit opgegee nie. Hy het God nooit verkwalik nie, maar aangehou om op God se genade en uitkoms te vertrou.
 
Ons moet onsself gedurig herinner dat geloof beteken dat ons ons vertroue in God plaas, omdat ons niks kan doen om sy genade en liefde te verdien nie. Hy het ons lief ten spyte van wie ons is.
 
Jy staan dalk vandag met jou rug teen 'n muur en het 'n wonderwerk nodig. Hou vas aan God se genade, plaas jou vertroue in Hom, en kyk hoe Hy in jou lewe werk.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006