Menu

Radio Pulpit

Home

Radiokansel Facebook Radiokansel Twitter

A+ A A-

Jesus is altyd by ons

God is die groot Ek Is, Yahweh, die lewende asem wat asem in ons almal blaas. Jesus het Homself ook Ek Is genoem. In Johannes 8 vers 24 en 28 lees ons: Daarom het Ek vir julle gesê dat julle sal versmoor in julle sondes, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes doodgaan en eers as julle My, die Seun van die Mens, verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is; en dat Ek uit My eie niks doen nie, maar net praat soos die Vader My onderrig het. In Johannes 14 vers 6 sê Jesus: Ek is die pad en die waarheid en die lewe.

Toe God vir Moses in Eksodus 3 gesê het dat sy naam Ek Is is, het God Homself aan die Israeliete voorgestel as die Een wat altyd aktief in hulle midde teenwoordig is, wat die bron van lewe tussen hulle is. Hulle kon hulle deurlopend aan sy konstante teenwoordigheid en nabyheid herinner.

Jesus se boodskap aan die mensdom word op 'n soortgelyke wyse beskryf. Jy lewe in Jesus se teenwoordigheid. Hy is in jou midde. Of jy werk en of jy slaap, of jy en jou gesin saam is, of jy eet en of jy uitgaan, of jy reis en of jy stil staan, of jy oefen, of jy lag of treur, God is in jou midde. God het persoonlik by ons kom woon, in en deur die Persoon van Jesus Christus.

Deur die Heilige Gees se inwonende teenwoordigheid is God voortdurend binne-in ons. Hy is altyd naby. Die oorsprong van lewe het binne-in ons kom leef. Hy woon in ons. Hy verander ons om self ook dan instrumente van lewe te word.

Die Israeliete in slawerny moes leer om vanuit die konteks dat God in hulle midde is, op te tree. Hulle moes besef dat saam met God, die farao onmagtig was om hulle slawe te hou. Saam met God kom slawerny tot 'n einde. Saam met God breek 'n lewe aan waarin God bepaal, God voorsien en God oorwin.

Net so moet ons leer om vanuit die waarheid dat God, deur die Heilige Gees, voortdurend by ons is, op te tree. Ons is heeltyd waar God is. God is heeltyd waar ons is. Ek Is is in ons midde.

Mag die waarheid van God in jou vir jou al dieper oopgaan sodat jy die wonder van sy teenwoordigheid, die rykdom van sy lewe en sy liefde en oorvloed vir jou kan ontdek.

Quick Links

Connect with us

ProudlySA

bg-004
bg-006
bg-003
bg-002
bg-001
bg-005